Tuesday, 5 April 2016

Die witbord van die toekoms

Van die begin van die jaar af leer ons hoe tegnologie ons lewe verander en vergemaklik.  Ek het aan die begin nogal redelik ongemaklik gevoel met al hierdie tegnologiese idees, maar toe hoor ek dat 'n blaai eens op 'n tyd tegnologie was en dit mense ontstel het.  Dus, het ek bietjie terug gaan sit en alles her-oorweeg.

Die interaktiewe witbord klink vir my soos 'the best thing since sliced bread'.  Ek gril vir daai geluid van bordkryt op 'n bord en die manier wat ons onderwysers se hande voel na ons met bordkryt geskryf het.  Nou kan ek op 'n wit bord skryf en dit na die klas stoor.  Nou kan ek wanneer my geheue my ontgaan terug gaan en gaan kyk wat in my les gebeur het.  Ek kan ook die volgende dag vinnig hersiening doen deur die vorige dag se goed vinnig op die bord te gooi.

Hierdie wit bord maak my lesbeplanning ook soveel makliker, aangesien ek nou goed kan insit wat ek die volgende dag wil noem.  Hierdie gaan verseker my Rekeningkunde klasse vergemaklik, aangesien ek die skyfies op die bord kan gooi, en ek ook gaan kan skryf op die bord. 

Al hierdie mag fantasties klink, maar die nadeel is dat hierdie bord nogal redelik duur is.  Indien ek nie by 'n 'ryk' skool gaan opeinding nie, is die kanse goed dat my droom van op hierdie wit bord kan skryf nie gaan waar word nie.  Dan is bordkryt maar my toekoms!  Gelukkig gaan juffrou wees my gelukkig maak en gaan ek nie omgee waarmee ek skryf, of nie skryf nie.

Wednesday, 16 March 2016

Applying Mindfulness to Mudane Classroom

Dit is vir my baie toevallig dat ons min of meer dieselfde gesprek as die Applying Mindfulness to Mundane Classroom blog gehad het in Besigheidstudies.  Ek het ook 'n lang gesprek met my oom aan die etenstafel gehad oor wat regtig die regte manier van skoolhou is. Ek het na 'n lang debat tot die besef gekom dat ons almal 'n verskillende idees het van wat hierdie ideale manier van opvoed is.

Ek gaan nou nie sover gaan soos Abby Wills om my klaskamer te skuif voor my leerders in die klas inkom, of goed in hulle ore fluister nie. Ek mag dalk my leerders die 'death stare' gee as hulle nie maniere het nie. Ons hoop hulle ouers het hulle darem goed opgevoed by die huis. Ek voel nie ek moet hulle op die ouderdom nog moet maniere leer nie. Eks daar om hulle akademies op te voed en reg te kry vir die wêreld daar buite.

Net soos my lesse beplan gaan word, gaan ek ook my klaskamer voor die tyd beplan. Ek mag dalk aan die begin die leerders op dieselfde plek laat sit, net totdat ek hulle name leer ken het, en van daar af gaan ek hulle elke dag rond skuif, so dat hulle elke dag met iemand anders moet meng, iemand anders se denk en leer proses kan leer.

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek daar wag 'n groot taak op ons as onderwysers, im alle omstandighede!

Monday, 7 March 2016

Kritiese Digitale Pedagogie


Ons NOS student is net hier vir vier maande, en dan van daar af word ons in die diep kant in gegooi by die skole.  Hier is ons nou die ou ooms en tannies, maar gou gaan ons die groentjies wees.  Dus, het ons 'n magdom werk om te behandel, want ons moet leer skool hou in net vier maande.

 

Ja, aan die begin het dit vir ons nogal baie lank geklink, maar toe ons nou eers begin klas begin, voel dit of vier maande sommer gou-gou gaan verby wees.  Dan is ek van net 'n studente nommer wees na Juffrou van Niekerk.  So, voor ek nou al my gedagtes oor net die vier maande neer pen, of neer tik altans, kom ons begin krities dink.

 

Soos wat Sam Hamilton in haar joernaal, om kritiese leerders te bevorder moet ons toelaat dat die leerders ook bietjie as die opvoeder tree.  Die is nou nie omdat ons net vier maande se onderwys ervaring het en baie by die leerders moet deel nie, nee, dit gaan daaroor om hulle as kritiese leerders te bevorder.  Deur hierdie te doen, sal ons hulle laat dink soos 'n opvoeder, want hulle moet iemand iets leer, en nie net alles soos 'n papegaai in te neem en te leer nie.  Ons wil nie hê dat ons leerders deel moet raak van die van net die springhaas metode toepas nie.

 

Sam Hamilton gaan ook verder om te sê dat al gebeur die ICT kommunikasie oor 'n afstand gaan dit steeds met dieselfde gelykes en ouderdom groepe plaasvind.  Die leerders gaan mekaar individueel kan ondersteun.

 

Ons gaan ook 'n spesiale onderwys-leerder band met mekaar vorm.  Nie op ‘n snaakse manier of in ‘n onvanpaste manier nie, maar wel in die manier wat my leerders as kritiese leerders bevorder gaan raak.  Op die ou einde van die dag is ons as onderwysers daar om vir die volwassenes van more ‘n beter toekoms te gee.  Dit is verseker my missie in die lewe om ander te help, ook om my passie met my leerders te deel.  Hoe beter dan om dit net op ‘n kritiese manier te doen, en die digitale media maak dit net soveel makliker.

 

Kritiese leerders sal die wees wat eendag die wêreld ‘n beter plek vir ons almal maak. Dalk word een van my leerders nog die president van hierdie land, alles te danke aan die kritiese digitale pedagogie wat ons leer.

 

Monday, 29 February 2016

Dankie Sosiale Media

"Het julle gehoor van Sannie wat eerste pouses voor die hele rugby span geval het?"
Ja, dit is hoe maklik sosiale media dit vir ons gemaak het om met mekaar te kommunikeer.  Slegs 'n paar knoppies en almal weet wat jy wil sê.  Dit is vir ons natuurlik net 'n plesier om met mekaar op so manier te kommunikeer.  Dis ook net soveel makliker om nee vir iemand oor 'n boodskap te sê as om dit in persoon te doen.

Provenzano praat van die platform "Remind" in sy blog.  Aangesien dit 'n "one way communication" is voel ek dat dit 'n baie goeie manier gaan wees vir my om met my leerders buite klas inligting deur te stuur.  Dit is 'n meer effektiewe manier van kommunikeer as 'n Whatsapp group waar al die leerders dan gaan terug antwoord.  Al probleem met die Remind platform is die feit dat leerders net kan sê dat hulle dit nie gesien het nie, en daars geen kontrolle.  Selfs om reëlings vir sport deur te gee oor 'n oefening wat dalk geskuif het of sekere klere wat leerders moet aantrek.

Een van my probleme met sosiale media wat as kommunikasie middel gebruik word tussen leerders en onderwysers is dat daar nie 'n duidelike lyn getrek kan word nie.  Leerders kan so gou jou sien as hulle vriend en nie as hulle onderwyser nie.

Nog 'n platform wat ek graag sal wil gebruik is om toetse op te stel waar die leerders antwoord deur die gebruik van hul selfone.  Al word selfone uit die meeste skole verbied, neem leerders steeds hul selfone saam skool toe.  So, "if you can't beat them, join them."

Indien ek myself eendag in 'n groot skool bevind, sal dit ook soms handig wees om te Skype met leerders wat dieselfde vak het, maar net in 'n ander klas is.  Op so wyse kan daar meer idees verkry word, sonder om 'n klas te bedruk met teveel leerders in 'n klas.

Davis noem in sy blog dat dit bog is vir ons as onderwysers om te dink dat indien ons vir hulle 'n aanlyn taak gee om te doen dat hulle tyd op facebook en so gaan spandeer.  Die punt bly staan dat aan die einde van die dag moet hulle steeds die taak ingee.  Ons as onderwysers kan selfs deur die klas loop om dit te monitor.

"Onthou Woensdag se netbaloefening is gekanseleer weens akademiese verpligtinge" - dit gaan net soveel makliker wees om te kommunikeer.

Dankie Sosiale Media, maar vir jou loop ek ook maar lig.

Wednesday, 24 February 2016

Digitale Pedagogie uit 'n oudmodiese perspektief

Nou dat ons NOS-studente ons in 'n ander studieveld bevind, word ons gereeld oorval met die woord "pedagogy".  Aan die begin het ons die dosente met groot vraagtekens op ons voorkoppe aangekyk (so soos ek nie graag wil hê my leerders na my moet kyk nie).  Nou dat ons al bietjie meer vertroud met die woord is, gooi hulle ons nouweer omvêr en maak dit "digital pedagogy".

Vir die wat nie so bevoorreg is om met kinders eendag te werk nie, mag dalk nie weet wat "pedagogy" beteken nie.  In eenvoudige terme, want dit is wat ons as onderwysers doen, ons vereenvoudig alles, is dit die vermoë om kinders te leer.

Volgens Morris is pedagogie nie sinoniem met onderwys of om oor onderwys te praat nie.  Morris noem ook dat digitale pedagogie nie net is om aanlyn klas te gee nie, nee dit gaan oor soveel meer as net dit.  Morris voel die uitvinding van LMS (Learning Management System) was 'n fout.  Ek stem volkome saam met hom.  Binne 'n klaskamer moet daar van aangesig tot aangesig kommunikasie plaasvind, nie oor 'n tablet of selfoon nie.

Stel jouself voor, jy vra 'n vraag aan die klas en in plaas van hulle wat al hulle hande opsteek om te antwoord, sak hulle koppe af om deur middel van 'n tablet jou te antwoord.  Ah nee ah!  Ons word mos groot gemaak en geleer dat ons 'n stem het en ons moet opstaan en ons sê sê.  Hoe gaan ons dit bevorder en kinders aanleer as hulle ons in die klaskamer nie eens antwoord nie?

Stommel glo dat digitale pedagogie nie 'n veld nie, maar meer 'n manier om die wêreld te betrek.  Stommel gaan ook verder en sê dat indien ons 'n kundige wil wees met digitale pedagogie moet ons navors en onderving opdoen, ons moet ook oop wees om 'n nuwe aktiwiteit en tegnologie te leer.

Vir die slimmies, is digitale pedagogie 'n orientasie teenoor pedagogie wat nie gewoonlik behels om digitale middels te gebruik nie.

Al sê Stommel dat digitale pedagogie die onderwyser en leerders betrek, vind dit steeds plaas deur die gebruik van digtitale media.

Ja, ek weet dit gaan beter leerders in die wêreld instuur omdat hul meer gaan weet om op so wyse te kommunikeer, maar wat gaan dit doen aan hulle mense verhoudings?  Op die ou einde van die dag gaan dit oor hoe jy die mense om jou hanteer en mee praat.  Gaan hulle nie dan almal op die ou einde om 'n etenstafel sit, met nog 'n Whatsapp groep, en so met mekaar praat oor die dag se gebeure en hoe lekker die kos smaak praat nie?

Noem my oudmodies, noem my tegnologies gestremd.  Ek gee nie om nie.  Ek gaan leerders in die wêreld instuur wat hulle stemme kan dikmaak (letterlik en figuurlik) en wat nie skaam is en elke keer 'n Whatapp moet stuur nie.